Sunday, 3 April 2016

Geen twyfel, Interaktiewe Witbord sal dit wees



Ek kan nie vandag se blog begin sonder ’n bietjie eerlikheid nie.....

Die opdrag vir die week was om ’n blog te skryf wat handel oor die gebruik en voordele van ’n interaktiewe witbord as dit kom by die vakke wat ek gaan aanbied van volgende jaar af, Geografie en Lewensorientering.

Hier kom my oomblik van eerlikheid....ek moes eers gaan Google wat presies ’n interaktiewe witbord is...(can’t watch emoticon). Dis ’n term wat al ’n paar keer gebruik is hierdie jaar, maar ek het nie ’n idee gehad dit is wat dit is nie, alhoewel ek dit al gebruik het tydens my mikro-onderrig sessies. So nou dat ek weet wat ’n interaktiewe witbord is kan ek verduidelik hoe ek dit gaan gebruik in my twee kurrikulum vakke.

Ek dink die interaktiewe witbord bied ’n ongelooflike geleentheid vir klas deelname en interaksie in die klas. Dit gee die onderwyser die geleentheid om werk op ’n meer geordende wyse aan te bied en aktiwiteite op ’n meer effektiewe wyse aan te bied. Ek het byvoorbeeld tydens my Geografie mikro-onderrig sessie ’n blokraai met die leerders gedoen oor die verskillende tipes migrasie. Die aktiwiteit het ongelooflike interaksie van die leerders uitgelok, omdat die antwoorde van die blokraai stelselmatig verskyn het en hulle so op ’n georganiseerde manier as ’n klas saam die aktiwiteit kon voltooi en mekaar help in die proses. Ek kon ook tydens die les die verskillende tipes migrasie as ’n konsep eers verduidelike en in die proses die leerders se voorkennis toets, voor ek die definisie van die term bekend gemaak het deur op die bord te druk. ’n Ander metode hoe die witbord in die geval gebruik kon word was om vir elke een van die leerders te vra om die definisie op die bord te kom skryf, sodat die bord dit in teks verander.

Nog ’n voordeel van ’n interaktiewe witbord, is dat groep aktiwiteite of ’n dinkskrum gehou kan word. Een van my Geografie kollegas het van dié metode van groepwerk en data hantering gebruik gemaak, maar ek glo in Lewensorientering kan dit ook gebruik word. In ’n geval waar die onderwyser vir die leerders data oor sekere teks wil uitbeeld, kan die klas gevra word om die data wat hanteer is, soos byvoorbeeld die persentasie van verskillende tipes voorbehoedmiddels wat algemeen gebruik word in Suid-Afrika, in ’n sirkel grafie uit te beeld, volgens hulle geskatte waardes of die werklike waardes, maar op die interaktiewe witbord. Daar kan ook dinkskrums oor die vasstel van klas reëls op die manier aangebied word. Die hele klas, onderwyser en leerders, werk dan saam op ’n interaktiewe wyse.

Ek glo dus in die gebruik van ’n interaktiewe witbord, aangesien dit ’n tipe tegnologie is wat ek graag sal wil gebruik in my klasse en ek glo deur die tipe interaksie sal leer meer produktief kan plaasvind, aangesien daar van verskillende leermetodes van die leerders gebruik gemaak word.