Sunday, 3 April 2016

Geen twyfel, Interaktiewe Witbord sal dit wees



Ek kan nie vandag se blog begin sonder ’n bietjie eerlikheid nie.....

Die opdrag vir die week was om ’n blog te skryf wat handel oor die gebruik en voordele van ’n interaktiewe witbord as dit kom by die vakke wat ek gaan aanbied van volgende jaar af, Geografie en Lewensorientering.

Hier kom my oomblik van eerlikheid....ek moes eers gaan Google wat presies ’n interaktiewe witbord is...(can’t watch emoticon). Dis ’n term wat al ’n paar keer gebruik is hierdie jaar, maar ek het nie ’n idee gehad dit is wat dit is nie, alhoewel ek dit al gebruik het tydens my mikro-onderrig sessies. So nou dat ek weet wat ’n interaktiewe witbord is kan ek verduidelik hoe ek dit gaan gebruik in my twee kurrikulum vakke.

Ek dink die interaktiewe witbord bied ’n ongelooflike geleentheid vir klas deelname en interaksie in die klas. Dit gee die onderwyser die geleentheid om werk op ’n meer geordende wyse aan te bied en aktiwiteite op ’n meer effektiewe wyse aan te bied. Ek het byvoorbeeld tydens my Geografie mikro-onderrig sessie ’n blokraai met die leerders gedoen oor die verskillende tipes migrasie. Die aktiwiteit het ongelooflike interaksie van die leerders uitgelok, omdat die antwoorde van die blokraai stelselmatig verskyn het en hulle so op ’n georganiseerde manier as ’n klas saam die aktiwiteit kon voltooi en mekaar help in die proses. Ek kon ook tydens die les die verskillende tipes migrasie as ’n konsep eers verduidelike en in die proses die leerders se voorkennis toets, voor ek die definisie van die term bekend gemaak het deur op die bord te druk. ’n Ander metode hoe die witbord in die geval gebruik kon word was om vir elke een van die leerders te vra om die definisie op die bord te kom skryf, sodat die bord dit in teks verander.

Nog ’n voordeel van ’n interaktiewe witbord, is dat groep aktiwiteite of ’n dinkskrum gehou kan word. Een van my Geografie kollegas het van dié metode van groepwerk en data hantering gebruik gemaak, maar ek glo in Lewensorientering kan dit ook gebruik word. In ’n geval waar die onderwyser vir die leerders data oor sekere teks wil uitbeeld, kan die klas gevra word om die data wat hanteer is, soos byvoorbeeld die persentasie van verskillende tipes voorbehoedmiddels wat algemeen gebruik word in Suid-Afrika, in ’n sirkel grafie uit te beeld, volgens hulle geskatte waardes of die werklike waardes, maar op die interaktiewe witbord. Daar kan ook dinkskrums oor die vasstel van klas reëls op die manier aangebied word. Die hele klas, onderwyser en leerders, werk dan saam op ’n interaktiewe wyse.

Ek glo dus in die gebruik van ’n interaktiewe witbord, aangesien dit ’n tipe tegnologie is wat ek graag sal wil gebruik in my klasse en ek glo deur die tipe interaksie sal leer meer produktief kan plaasvind, aangesien daar van verskillende leermetodes van die leerders gebruik gemaak word.

Tuesday, 15 March 2016

Individualiteit



Ons het ‘n paar weke terug in ’n Lewensoriëntering klas, net soos Abby Wills se klas, ‘n “mindfulness” oefening gedoen. Die spesifieke oefening was nie vir fokus en konsentrasie doeleindes nie, maar meer vir die ontdekking van ons eie drome en ideale. Dit was een van die verrykkenste ervaring van my lewe, aangesien ek die geleentheid gekry het om in daai oomblik net te wees en net te fokus op wie en wat ek binne myself is. Die ervaring van introspeksie bied ’n belewenis en ontdekking van die self wat aan die persoon die vaardigehde gee om hulself beter te verstaan en in die proses die mense rond-om hulle die geleentheid gee om hulle beter te verstaan.

Ons leef in ’n wêreld waar daar ’n al ewige gejaag is na punt A na punt B en die geleentheid om rustig te raak, niemand toegewens word nie. Die voorbeeld word deur die volwassenis rond-om ons gestel dat om vir ’n oomblik rustig te raak, af te vat, tyd saam met jouself te spandeer, minder geld beteken. Die gejaag kan dan basies gesien word as die konstante soeke na geld omdat daar geglo word dat geld jou identiteit en persoonlikheid gaan vorm. Geld gaan maak dat almal van jou hou en jy het nodig dat almal van jou hou, aangesien dit jou lewe vervul en jou definieer in plaas van dat die wete van wie jy werklik is jou definieer.

Dit bring my by die klaskamer, waar ek voel ons as onderwysers ’n veel groter taak het as net die onderrig van ons kurrikulum vakke. Ons moet die leerders wat voor ons sit beter ambasideers en burgers van ons land maak. Ons moet toekomstige volwassenis kweek wat ons land weer op sy voete sal kan bring, na ons huidige volwasse populasie die land op sy kniee gedwing het.

Dit is nodig dat ons as onderwysers gebruik maak van die kennis, gereedskap en bronne wat ons tot ons beskikking het. Dit sluit in die gebruik van tegnologie in ons klaskamers, maar op so manier dat ons leerders ’n dieper weet van hulself kan ontwikkel, soos die skryf van ‘n blog. Ons moet ons leerders ’n stem gee om insae te lewer tot moontlike metodes van onderrig wat vir hulle sal werk. Hulle sal die bydra kan lewer, as die geleentheid vir self-ontdekking in die klas gekweek word. Wie dan nou beter om te sê hoe die leer opset moet funksioneer as die wat die onderrig moet ontvang. Ek dink ons is lank al verby die punt waar voorlees uit ’n handboek uit voldoende is vir optimale leer om plaas te vind. In die proses, sien ons leerders dat ons hulle van waarde ag, ons toon dus belangstelling in ons leerders, en kan ons moontlik in ’n span poging saam met ons leerders die ervaring van leer optimaliseer. Soos vele gevalle voorheen kan die onderwys kwessie ook moontlik opgelos word deur spanwerk, maar tussen die regte individue. Die leerders moet die geleentheid gegun word om hul opinies te kan lewer, debatte te kan voer en saam met die onderwyser die konteks wat bemeester moet word te ondersoek. Die proses van deelname sal egter net kan plaasvind as die leerder hom of haar self ken. Deelname in die klas kan dus verbeter word, of selfs begin word deur die leerder te leer om “mindful” te wees en so hul individualiteit te ontdek. Is dit nie tog wat ons wil hê vir Suid-Afrika nie....individualiteit???

Tuesday, 8 March 2016

Balans



Ons bevind ons-self in ’n era waar Speel dié nuwe “buzzword” geword het. Leerders word aangemoedig om hulself uit te druk, hulle stemme te laat hoor, wie hulle is aan die wêreld te toon sonder enige beperkinge. Dit is selfs ’n fundamentele Mensereg in die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte (Die reg op Vryheid van Uitdrukking). Maar tot watter vlak kan ons die onbeperkte denke en optrede toelaat, voor dit nadelig raak vir die sameleweing?

Ons onderwysstelsel, waar leerders in sekere vakke onderrig ontvang, of hulle nou daarvan hou of nie, plaas leerders in gestruktureerde boksies. Dus, geen vryheid van menging, opinie, oortuiging of denke word toegelaat nie. Dit word ’n onderwys struktuur vir ’n rede genoem, want dit bied struktuur. Op die punt moet ek ook byvoeg dat ek nie glo in die streng struktuur waar ons leerders soos robotte inligting ingevoer word en daar verwag word dat hulle goeie burgers van die land moet wees deur gebruik te maak van die metode van leer nie.

Die fokus val in die situasie op self-gerigte leer, waar struktuur verwyder word sodat die leerder sy eie struktuur kan skep. Maar tot op watse punt kan ons die manier van vrye onderrig toelaat? Waar trek ons die grense van waar vryheid hand uit ruk en ons met ’n generasie van individue sit wat “gespeel” het op skool en nooit geleer het om iets meer met hul lewens te maak nie. Ja, hulle is enoverend en het gefokus op dit waarin hulle belangstel, maar is hulle volrond opgelei om verder te gaan studeer?

Dit bring my by afstands leer en hoe self-gereguleerde onderrig die medium van leer moontlik kan beinvloed. Ek is totaal en al vir die idee van afstands leer en glo dat elke individu die reg tot opleiding het, maar nou wil ons deur die proses van self-regulering afstands leer verder anoniem maak, aangesien die proses nou sonder kenner struktuur geimplimenteer word aan leerder wat klaar nie die geleentheid het om ’n tradisionele klaskamer te beleef nie.

Dit bring my by my gusnteling woord die jaar. Balans. Kom ons vind ’n balans tussen ons regiede onderwys sisteem en ons leerders se behoefte aan kreatiewe denke en self-regulering van hul onderwys ervaring. Dit is nou vir tradisionele skole of universiteite en leerders wat van afstands leer gebruik maak. Ek glo ons kan in ons skole ’n periode of vak skep waar die leerder leer wat hulle wil leer, waar self-gereguleerde leer kan plaasvind en die inligting oorgedra kan word aan klasmaats. Op die manier vind self-gereguleerde leer plaas in ’n gestruktureerde omgewing.

Noem my maar ouderwets, maar ek het nie veel hoop vir ons land as ons, ons skool sisteem totaal en al self-gereguleerd maak nie.

Saturday, 27 February 2016

Sosiale Media, my nuwe beste vriend



Met die aanvang van ons NOS 2016 mikro-onderrig (glasklas) lesse wat op dreef kom, kruip die tyd nou nader vir my om ook my vakgebiede in die vervand aan te bied. Ewe skielik moet lesplanne uitgewerk word en planne beraam word om ’n les aan te bied wat op die leerder se voorkennis gebou is en wat hulle betrokke gaan maak by die les en assesserings aktiwiteite uit te werk. Alles om te verseker dat die leerders wel iets geleer het en die inhoud van die les gaan onthou.

Tydens die beplannings fase is ek geforseer om krities te dink aan die leerders vir wie ek my les gaan aanbied en van watter tipe voorbeelde, aktiwiteite en mediums ek gebruik van moet maak om hulle te boei. Die eerste duidelike antwoord is tegnologie. Nou tegnologie behels ’n hele reeks verskillende elemente, maar een staan spesifiek uit, die gebruik van sosiale media. Hoe gaan ek van dié medium gebruik maak, nie net met mikro-onderrig nie, maar as toekomstige onderwyser?

Tydens die jaar is my twee kurrikulumstudies, en grootste belangstellings areas, Geografie en Lewensoriëntering. Dis twee areas wat eindelose moontlikhede het as dit kom by die gebruik van sosiale media. My onmiddelike kreatiewe gedagtes wat op kom is die interaksie wat kan plaasvind met YouTude vir die verduideliking van konsepte en hoe sekere gebeure, veral in Geografie visueel voorgestel kan word. In ’n land soos Suid-Afrika kry ons leerders nie die geleentheid om tropiese siklone of aardbewings fisies te beleef nie. In dié verband kan ’n medium soos YouTube of selfs foto’s van die gevolge van die natuurlike verskeinsels die leerders se gedagte en leer wêreld oopbreuk.

Met verwysing na Lewensoriëntering kan sosiale media, met spesifieke verwysing na ’n platform soos Twitter of Facebook gebruik word om op datum te bly met nuus gebeure as voorbeelde van konsepte in Lewensoriëntering. Die nuus wat tans berig word oor die gevalle van rasisme in Suid-Afrika op bogenoemde sosiale media’s kan gebruik word as deel van ’n les oor diskriminasie, stereotipering en stigma. Selfs sekere YouTube video’s verduidelik sekere konsepte meer volledig as die handboeke wat voorgeskryf word.  

Sosiale media is dus volgens my een van die beste, moderne vorms van leer aangesien die leerders die geleentheid het om die werklikheid rondom hulle te beleef en die voorbeelde van toepassing kan maak of die konsep van die werk wat behandel word. Dit maak die onderrig proses vir die onderwyser ook makliker aangesien duideliker voorbeelde gestel kan word en meer relevante inligting verkry kan word in verband met die twee kurrikulumstudies genoem. Ek stem dus saam met Davis dat sosiale media in die klaskamer meer aktief, relevant en kultureel divers maak.

Ek glo buite die klaskamer kan ’n platform soos Twitter, Facebook en Instagram gebruik word om die leerders die geleentheid te gee om hulle gedagtes oor hul vakinhoude te deel en prente op te laai wat verband hou met spesifiek Geografiese verskynsels. Ek dink byvoorbeeld toe ek die eerste keer verlede jaar deur Meiringspoort gery het en omring was met die mooiste rotsvorm wat ek al ooit beleef het. In die verband kon ek byvoorbeeld ’n foto geneem en my belewenis met my klas gedeel. Die voorbeeld kon dus dien as ’n interresante verskynsel en as deel van die werk wat gedek word in die klaskamer.

So kom ons verryk ons leerders deur sosiale media.

Monday, 22 February 2016

Wat beteken Digitale Pedagogie vir my



Dit is so maklik om na die woord Degitale Petagogie te kyk en die idee te kry dat dit seker iets temake moet hê met die Internet en hoe kennis oor die Internet oorgedra word. In die twee voorgeskrewe artikels word daar meer gefokus op onderrig wat oor die Internet plaasvind en dat dit nie Degitale Pedagogie is nie, en dat die term meer kompleks is as die basiese gedagte wat bogenoemde gesien kan word.

In die laaste drie weke wat ek deel is van die NOS program is ek oorweldig oor hoe kennis op die interresantste maniere oorgedra kan word en dat leer bestaan uitsoveel meer as ’n onderwyser wat voor ’n klas staan en uit ’n handboek uit die leerder onderrig. Onderrig en leer gaan oor daai ongelooflike oomblik as interaksie plaasvind tussen twee individue op ’n intellektuele manier. Met die konsep in gedagte vind leer elke dag plaas hetsy tussen kollegas, ’n ouer en kind of leerder en onderwyser. As onderwysers moet ons dus saam met onder leerders kennis ondersoek en bemeesters. Ons moet die metode van leer deel maak van ons Pedagogie.

So, met die vasstel van watter Pedagogie ek gebruik van wil maak, moet die kollig geplaas word op Digitale Pedagogie. In die artikels deur Sean Michael Morris maak hy dit duidelik dat Digitale Pedagogie gefokus is op onderrig wat oor die Internet plaasvind en hoe dié verhouding meer verpersoonlik moet gemaak word om Digitale Pedagogie te wees. Interaksie moet dus plaasvind tussen individue vir onderrig om tenvolle plaas te vind volgens Morris en Stommel. Ek glo in daai interaksie waarna huller verwys en wil graag daai interaksie van gebruik maak in my klaskamer.

Dit bring my by wat Digitale Pedagogie vir my beteken. Soos ek in my vorige blog inskrywing duidelik gemaak het glo ek daar moet ’n balans wees tussen die gebruik van tegnologie en die witbord in die klaskamer. Ek glo dus dat leerders die teenwoordigheid van ’n onderwyser nodig het om leer te laat plaasvind. ’n Bewustheid moet geskep word dat leer nie net gaan oor die oordrag van inligting nie, dit gaan oor die emosionele konneksie wat gemaak word met die werk. Werklike interaksie is nodig tussen ’n onderwyser en leerder vir die emosionele konneksie om plaas te vind. Die emosionele interaksie gaan ook oor die selfvertroue wat gekweek word by die leerder in verband met die werk wat onderrig word. Digitale Pedagogie gaan dus vir my oor die teenwoordigheid van ’n onderwyser en ’n leerder in ’n klaskamer situasie en die proses van leer wat plaasvind deur saam te soek na antwoorde van die vak inhoud wat onderrig word. Die vak inhoud kan meer interrasant gemaak word deur die gebruik van tegnologie, maar ek glo onderrig kan defnitief nie plaasvind sonder die onderwyer nie, hetsy fisies teenwoordig of duisende kilometers ver.